Monthly Archives: Junie 2011

Niks is vir ewig nie

Dis nou regtig nie asof ek nog steeds die ABO veg nie – ek het immers darem al saam met ‘n Engelsman geslaap en nogal kinders ook by hom verwek   :lol:   – maar ek  kyk elke liewe dag vas in die area waar die konsentrasiekamp was.  En elke dag dink ek:  ek moet tog gaan kyk waar die begraafplaas is waar hul dooies begrawe is.

Toegegee, destyds het hulle nie die N1 daarheen gevat nie, maar dit bly steeds ‘n stywe entjie wat die stomme mense moes loop.  President Brand Begraafplaas.  Dit klink meer imposant as wat dit werklik is.

Buite vertel geroeste borde my dat die hekke vir die publiek gesluit is van 19hoo tot 6hoo, maar die ewe geroeste slotte vertel my dat daai hekke in ‘n baie lang tyd nooit oopgesluit is nie.  Maar dat die plek “bewoon” word, is duidelik uit die rommel wat oral rondlê.  Eers was ek skrikkerig om die wet te oortree, maar nadat die polisie vangwa wat aan die oorkant van die straat gestaan het, weg is, het ek besluit om tog maar te gaan kyk.  En sommer die nuwe ingang te gebruik.

Behalwe vir ‘n monumentjie wat verklaar dat hul volk hul nooit sal vergeet nie, is daar nie ‘n teken van enige boeregrafte nie.  Ek kan verstaan dat konsentrasiekamp-inwoners nie in staat was om behoorlike grafstene op te rig nie, en vermoed dat daardie grafte nou ongemerk lê.

Dat Bloemfontein beset was deur die Engelse, is duidelik aan die vele Britse burgerlike grafte.   Ongelukkig is daar  min om selfs daarvan te sien.  Vandale het letterlik alles wat gebreek kan word, gebreek. 

Maar, soos altyd, is die Britse soldate se plekkie goed versorg teen die res van die begraafplaas.  Gee die duiwel wat hom toekom, maar ‘n eeu na die oorlog, kyk hulle steeds na hul eie.

Die Presidentsakker het ek nie verwag nie – altyd gedink dis in Pretoria.  Maar nee, hier rus die Presidentsegpare Diederichs, Fouche, Viljoen, Swart.  Eintlik lagwekkend, want in my geestesoog het ek vermoed dit sal ‘n goedversorgde stukkie grond wees vir ons elite.  Maar dis glad nie so nie.  Onder ‘n paar kareebome, langerige gras en met rommel teen die muur, lê die manne waarvan ons in geskiedenisboeke  geleer het.

Dalk was dit eens op ‘n tyd ‘n gesogte stukkie real estate, maar vandag bejammer ek die presidente van weleer.  Verlate, verwaarloos, vergete.

So troosteloos as wat dit meer as ’n eeu gelede was, net so troosteloos is dit vandag.  Niks om te sien nie.  Niks om te herdenk of te gedenk nie.  Niks wat mens hoendervleis gee nie.

Die stadsvaders kan dit maar van hul lysie van “things to see in Bloemfontein” afhaal.

Seker die moeilikste ding om alleen te doen

Die eerste verkeersligte wat ek kry as ek van my huis af ry, is onlangs “bekroon” as die plek waar die meeste noodlottige ongelukke in die stad gebeur.  En die getuienis is kort-kort daar.  ‘n Verkeerslig wat heeltemal óm gery is.  Swart briekmerke op die teer.  En soms ‘n ruiker St Joseph-lelies, om die bord gehang wat wys verkeer moet díé kant bly.

Daardie blomme het by my gespook.  Ek is elke dag daar verby, en het gesien hoe die blomme verlep, verbruin en verdroog, maar dit het weke daar bly hang.  Ek het van die ongeluk gelees in die koerant, en alhoewel dit vir my skokkend was – die dood van jong mense is altyd skokkend – het ek dit nie aan my lyf gevoel nie.  Dit was iemand anders se pyn, pyn wat ek nie kon sien of voel nie.

En toe, nou die aand, neem ons haar op.   ‘n Doodgewone jong vrou in kraam.  Ek trek die gordyne toe en gee haar kans om uit te pak en ons hospitaaljurkie aan te trek.  En toe ek weer oopmaak, staan sy foto in ‘n goue raam op die bedkassie.  Ek het geweet, maar ek moes vra.  Uiteindelik kon ek ‘n konneksie maak met die bos verdorde blomme.

Wat kan mens doen of sê?  Wat is die regte ding?  Ek het maar net by haar gesit en oor hom gesels. Sy wou graag oor hom praat, en dalk was dit makliker omdat ek ‘n vreemdeling was.  Haar oë was deurgaans droog, maar die verdriet daarin wou my laat huil.  Sy ouers en haar ouers het die hele nag kort-kort by haar ingeloer, maar sy wou niemand die hele tyd by haar hê nie.  Eers wou sy ook nie pynverligting neem nie, maar later kon ek dit nie meer uithou nie.   “Hoekom moet jy jou lyf laat seerkry terwyl jou hart so seer is?”  Toe neem sy ‘n epiduraal en kort daarna is haar seuntjie gebore.

Dis weird, om ‘n ma, haar nuwe baba en ‘n foto alleen te los om te “bond”.   Maar dit moes so wees, dink ek.

Ons dam loop oor

Ek wonder of ek dadelik sal agterkom as ‘n aardbewing ons tref?

Ja, so reën dit toe vir twee dae en twee nagte aanmekaar.   Ek vat Pieter skool toe en verwonder my aan alles wat onder water is.  Die implemente-plek op die hoek waar ek afdraai skooltoe.  Die arme perde wat amper kniehoogte in water staan.  Maar ek stoom voort skooltoe en dink nie dis snaaks dat ek eers stop, en toe huiwerig deur vier of vyf sterk strome water ry nie.  Die plotpaadjie lyk amper soos ‘n rivier.  By die skool is die rugbyveld ook onder water.  Maar nee, dofkoppie besef nie hier is ‘n katastrofe aan die gebeur nie.  Die Volksblad moes eers die volgende dag die nuus vir my breek.

Vandag was ons eerste rêrige sonnige dag, en ek en die telgie het bietjie gaan rondry.  Die evidence het grootliks al weggesypel in ons sandgrond, maar darem het ek die Krugersdrifdam vir die eerste keer in my lewe sien oorloop.  Toegegee, ek was vir ‘n lang tyd weg, maar selfs in my kinderjare het ek dit nooit gesien nie.

Onder deur die brug, en dan kan mens sien hoekom die rivier Modderrivier heet.

En daar neffens staan ‘n klipkoppie, vaal in sy wintersjassie van dooie gras en struike.   Uiteindelik is winter in die Vrystaat vir my nou mooi.  :wink:

In die twilight zone

Toe ek Maandagoggend van die werk kom, was ek wawyd wakker.  Ek was lus om dinge te doen en wou gaan bad en die dorp invaar.  Maar ek was yskoud bevrore.  Toe gaan lê ek op my rug op die bed en voel hoe die elektriese kombers my lyf stadig laat ontdooi.  Ek wou net vir so tien minute lê, regtig.  Het nie eens die moeite gedoen om my uniform uit te trek nie.  Sommer met baadjie, trui, epaulette, horlosie, sykouse..alles, gaan lê.  En natuurlik aan die slaap geraak.

Ek is rof wakker gemaak deur ‘n gehamer aan my voordeur.  Ek was heeltemal deur die weer, en agterna het ek gesien hoe ek gelyk het.  My hare het agter penorent gestaan, maskara het in swart strepe onder my oë gelê.  Oppad na die voordeur het my oë die muurhorlosie gesoek.  Halftwee.  Terwyl ek gesukkel het om die deur oop te sluit, het ek darem verligting ook gevoel.  Ek was nog betyds om my kind by die skool te gaan haal.

Maar toe ek die deur oophet, was daar een groot skok vir my.  Die skooljuffrou het Pieter sommer self kom aflaai.  Vrydag het hy ‘n briefie gekry om te laat weet die skool sluit van hierdie week af eenuur.  Dit was naweek, ek het gewerk, en het dus nie in sy skoolsak rondgesoek na moontlike briefies nie. Die juffrou het gesien ek het nie die briefie gekry nie, en hom kom aflaai.  Ná vele oproepe en sms’e wat ek doodeenvoudig nie gehoor het nie.

Ek’s bevrees die Welsyn gaan my weldra kom jaag.  Maar ek is magteloos in hierdie greep van vreemde slaapgewoontes.

Vanaand het ek tienuur saam met Pieter gaan slaap.  Ek was moeg en het gou aan die slaap geraak.  Twaalfuur was ek wakker.  Dis nou amper drie uur (in die oggend) en van slaap is daar nie nou sprake nie.   Vanmiddag sal my wiele weer afval, en dan sal ek weer vir ‘n wyle sluimer.  Wat beteken dat nog ‘n minslaap-aand voorlê.

Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer voel ek dis nou tyd om te bedank.  Êrens langs die pad gaan ek probleme optel.  En ek het met my eenheidsbestuurder gaan praat daaroor.  Sy het oornag vir my ‘n nuwe pos geskep met minder ure.  Bietjie minder ure.  Ok, twee nagte ‘n week minder.  Maar eers van Augustus af.  Of dit gaan help, sal ek maar nog moet sien.  Ek voel nou ek skuld die EB omdat sy so agteroor gebuig het om my te akkomodeer.  Ek voel ek skuld Pieter omdat ek hom alewig laat op-en aflaai en dan jaag om dinge gedoen te kry.

As ek net geweet het hoe om my lyf te laat verstaan dat ek maar vroeg (in die aand) kan gaan slaap en bly slaap as ek af is.  Slaappille raak ek nie aan nie – selfs ‘n kwartpilletjie klap my dat ek vir twee dae ‘n zombie is.

Miskien moet ek begin om ‘n nightcap te drink voor slapenstyd.

Dis nou sommer kaf

Die eerste keer toe ‘n donkerblou polisiekar voor ons ingeswenk het, was dit nogal ‘n ‘wow’-oomblik.  Toe die ou met sy blou uniform en groot swart gun uit die kar spring en heen en weer voor ons – die karre in drie bane oppad in stad toe – swaai, het ek sommer lekker gekry…hulle verwag duidelik ‘n groot boef en dié gaan nou sy rieme styfloop.  Ek het in my truspieëltjie gekyk en gewag dat hy nou arriveer.  My entoesiasme om reg en geregtigheid eerstehands te aanskou, het verdamp toe ‘n hele konvooi swart Hummers – I kid you not! – met donker getinte vensters, skielik verby ons gesshweep het.  VIPS.  Go figure.

Maar nou is ek gatvol daarvoor. En dis ‘n hele paar sulke insidente later.

Watter reg het enigiemand om in besige oggendverkeer met loeiende sirenes en flitsende blou ligte almal vervaard tot stilstand te dwing en dan met frantic, vreemde handbewegings ‘n boodskap by ons tuis te bring?  Goei hel, dis die Vrystaat, nie Hollywood nie.  Soveel drama ken ons nie.

In die eerste plek skrik ons almal ons gatte af en gaan stop onmiddellik.  Dan probeer ons die handseine ontsyfer.  Niks in my “How to drive”-boekie het naastenby so gelyk nie.  Maar dat ons op die koop toe met groot, swart guns verder gedreig word om stil te staan…or else…   :evil:

En dit alles net om ‘n VIP, of ‘n paar VIP’s gou by hul bestemming te kry…

Tensy hulle in die Ou Raadsaal gaan vergader om die impak van ‘n naderende komeet te bespreek, is dit nou plein stront.

Volgende keer RY ek.