Daily Archives: Julie 31, 2011

Vonkelwyn-land

Nou die dag het ek êrens gelees Suid-Afrika (maar maak dit maar Afrika) is soos ’n geseëlde bottel vonkelwyn wat vir eeue geskud is.  Dis so waar.  Daar is die soet, die sprankel, die belofte van iets groots, maar ook die onvoorspelbaarheid, die onstuimigheid, die vermorsing van iets groots…

Ek het seker ‘n jaar gelede vrede in my hart gemaak dat ek hier is om te bly.  Maak nie saak hóé hard ek probeer nie, ek kan myself nie in ‘n Europese, Australiese of Kanadese utopia indink nie.   Dit was nie ‘n bewustelike ding nie.  Ek het net eendag besef dat dit nie meer vir my ‘n issue is nie.

Ek weet dat dinge ver van rooskleurig is.  Dis baie erger as wat dit ‘n jaar gelede was.  Dit gaan verder as slaggate, korrupsie, swak onderwys en gesondheidsdienste.  Daar is nou ‘n definitiewe neiging om wittes as onwelkome gaste in Afrika te beskou.  Die ANC-regering hits dit aan, en ek vermoed dis om die fokus te verskuif van hul totale onbekwaamheid om die land te bestuur.

Die ANC het ‘n politieke agenda en het nie “die mense” se belange daarop nie.  Soos die nuutste ding waaroor ek ook in Bloemfontein se strate sal  toi-toi:  die  verandering van alle straatname in die Vrystaat teen ‘n beraamde koste van R50 miljoen.   Dít terwyl die werkloosheidsyfer in die Vrystaat 36 % is en mense daagliks koud en honger gaan slaap.

Maar ek wil nie oor ons regering skryf nie.  Dis ‘n vermorsing van tyd en energie want hulle stoom voort sonder om na enigiemand te luister, wat nog te sê ‘n white suburban housewife.   :wink:

Ek wil skryf oor die goed wat my daagliks hoop gee.

Nog ‘n ding waarmee ek vrede gemaak het, is dat alles in Suid-Afrika gaan oor wit en swart.  Ons is nog nie ‘n nasie Suid-Afrikaners nie.  Dis die swartes aan die een kant en die wittes aan die ander kant.  Die koerante is vol van hoe die twee groepe nie oor die weg kom nie.  Die kommentaar op berigte in die Volksblad is deurspek met rassisme van beide kante.  Dit maak my bedroef, bedruk en belemmerd.

Maar…

Dan sit ek in my toege-ysde  (  :roll:   ) karretjie ná werk en wag dat die ys smelt, en ons sekuriteitwag kom met ‘n kan water wat hy aan die oorkant van die straat gaan haal het, en kom gooi dit oor my voor-en agterruit.  Hy verwag nie ‘n tip nie, en ek “ken” hom net van elke aand se wuifgroet as ek inry.  Hoekom is hy nice met ‘n white bitch?

Ek moet werk met my man se laaste aand in die land, en niemand wil vir my instaan nie.  Dan bel die (enigste) swart suster en sê sy sal vir my werk, die oggend van die betrokke aand.  Haar goedheid oorweldig my en ek voel klein en nietig.  En verskriklik dankbaar.

Daar is die ou skoonmaker wat ek elke aand in die gange kry as ek gaan rook.  En as ek hom groet, sê hy “Dankie, suster, dankie.”  Hoekom sê hy dankie?  Is dit jare se verbal abuse deur witmense wat hom dankbaar maak as iemand hom ordentlik behandel?  Of is dit net ‘n kultuur ding?  Ek weet nie.  Soms rook ons saam op ons geheime onwettige rookplek, in stilte, en as ek hom twee uur later weer raakloop groet ons asof ons mekaar die hele aand nog nie gesien het nie.  “Dankie, suster, dankie.”

Ek en my swart stafverpleegster kyk saam na die City Press se voorblad-foto van die Lindley-ses.  “They don’t even look sorry, “  sê sy.  Die moord van ‘n wit kind vul haar ook met afgryse.  My swart care worker raak bewoë toe sy hoor die mense in die gang langsaam wag vir ‘n jong ma om uit teater te kom nadat sy beseer en haar 20 maande oue dogtertjie dood is in ‘n ongeluk.  Sy gaan maak vir hulle tee, die enigste manier hoe sy weet om te simpatiseer.  Dis nie haar werk nie, en niemand het haar gevra om dit te doen nie.

Dan ry ek soggens huistoe en by die eerste verkeersligte staan ‘n straatkind in ‘n dun truitjie, ‘n broek wat te kort is en geen kouse saam met sy vodde skoene.  Op ‘n oggend waar die ryp weer dik lê en mens wolkies blaas in die koue lug.

Langs die afrit na die N1 staan daar (elke liewe oggend) ‘n homeless man soos ‘n superhero met ‘n stukkende kombers oor sy kop in die flou winterson.  Slaap hy elke aand onder die twee bome daaronder?

Die swaarkry oorweldig my.  Ek weet nie hoe mens daadwerklik ‘n verskil kan maak nie.  Tot ek weet hoe, pak ek vanaand my man se ou baadjies en kouse in die kar.  Om verby iemand te ry en nie te help nie, skreeu ten hemele.

Dis my Afrika.  Dit hou my op my knieë, maak my dankbaar, benoud, hooploos, hoopvol…alles in een.