Op ‘n berghang, nie te ver hiervandaan, was daar ‘n pragtige plantasie dennebome. Hulle is geplant deur mense, en hulle het net een doel gehad: eendag sou hulle almal papier word.

Oe, en die boompies was só opgewonde daaroor! Hulle kon nie wag om groot genoeg te word sodat hulle afgekap en na die papiermeule geneem kon word nie. Party wou graag storieboeke word, ander wou eerder tydskrifte word. Elke dag het hulle daaroor gepraat. “Ek wonder hoe lank dit nog gaan neem”, het een gewonder. ‘n Ander een het gehoop hý gaan die eerste een wees om afgekap te word.
Maar tussen al die pragtige dennebome, het ‘n klein denneboompie gestaan. Niemand weet hoekom nie, maar hy het nie so groot en sterk geword soos sy maters rondom hom nie. En soos die ander bome hoër en hoër geword het, hoe stiller het die arme klein denneboompie geword. “Niemand sal my tog wil gebruik nie,” het hy hartseer gedink.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek. Slim mense het na die bome kom kyk en besluit hulle is groot genoeg om afgekap te word. En, net soos die klein denneboompie verwag het, het niemand eens na hom gekyk nie. Teen laatmiddag was al sy maats afgekap en netjies opmekaar gestapel, reg vir die vragmotors om hulle te kom haal.

Die klein denneboompie het alleen op die berghang agtergebly. Hy was so hartseer. Hy wou ook graag iets vir mense beteken het.
Die dae het weke geword en later maande, en die denneboompie het gedink almal het van hom vergeet….toe daar eendag ‘n kar stop en ‘n ma, ‘n pa en drie kindertjies daaruit klim. Wat die denneboompie nie geweet het nie, is dat hierdie ‘n baie spesiale familie was.
Hulle was op soek na die perrrrfekte denneboom vir Kersfees. Hulle het nie van plastiekbome gehou nie, nee. Hulle het ook nie van perfekte bome gehou nie, nee. Hulle het ‘n unieke boompie gesoek wat net reg vir hulle was. En hulle dink hulle het hom gekry!
“Kyk, Pappa, hierdie boompie is nie te groot nie!”
“En hy lyk ook nie perfek soos ‘n winkelboom nie!”
Die pappa het hom die boom geloop en die hom op en af bekyk.
“Ek dink julle is reg. Hierdie is die perfekte boom vir ons!”
En so het dit gebeur dat die klein denneboompie van die berghang na ‘n knus huisie verskuif het, en iets vir mense beteken het. Vir hulle was hy die mooiste, perfekste boompie ooit!

En hopelik geval dit Tannie Tossel…my swak hart…wat ek ook nie alles vir ‘n tag sal doen nie.