Monthly Archives: Augustus 2011

Blou Maandag

Gistermiddag wys Pieter my die swart rook en ek sê “oe” en “aa”, draai om en loop terug huistoe.

Ek ry 2 ure later werk toe en by die kruising sien ek rooi en blou en oranje ligte flits.  Die pad is toegemaak.  Nog ‘n ongeluk, en ek kry ‘n nare kol op my maag.

Vanoggend kry ons die feite in die koerant.  Vragmotor skip rooi lig en jaag in voertuig vas.  Ma dood op die toneel, seuntjie kritiek beseer.  Kar uitgebrand.

Dit laat my aardig voel.  Die swart rook het my nie geraak nie, maar op daardie oomblik het mense se lewens onherroeplik verander.  Letterlik net ‘n klipgooi van my af.

Daaaah-lieng

Daar is min songs wat my sommer net terugvat na die tagtigs toe, soos Darlin’ van Tom Jones.

Sokkie-aande…gaan hy my vra om te dans, of nie?  Meestal het hy nie.   :wink:

Die Rooi Gevaar en die polisie wat ons kom toespreek in die skoolsaal.  Kyk uit vir vreemde pakkies wat rondstaan…

Skouerkussings en gepermde hare.  Pers en geel was ‘n wenkombinasie.

Grensoorlog en bomme in Pretoria.

Maar meestal het ons groot drome gedroom, en gewonder wat die toekoms vir ons inhou.

Ek wens ek kon daai jong Vytjie ‘n paar woorde in die oor fluister…

 

 

 

Second most beautiful garden in Africa

Nog ‘n ding het op my bucket list gespring:  vóór ek my asempie uitblaas, móét ek Kirstenbosch Botaniese Tuine sien met my eige oge.   Vandag het ons, einde oplaas, in Bloemfontein se Botaniese Tuine beland.  Goeiste, was ek uitgeboul!  ‘n Stukkie hemel op aarde, en dan word Kirstenbosch beskryf as die “most beautiful garden in Africa”!  Dit moet ‘n sien werd wees.

Só word ons Botaniese Tuin beskryf op SANBI se website:

This garden, on the outskirts of Bloemfontein, spans a valley between picturesque dolerite koppies. The natural vegetation comprises tall grassland and woodland, dominated by magnificent wild olive and karee trees. The harmony of the Garden has been achieved by retaining and highlighting the best elements of the natural landscape.

The Garden covers 70 hectacres, and is home to about 400 species of plants, mainly from the Free State, Northern Cape and Lesotho. It also includes a fine collection of decorative and hardy trees indigenous to the area.

Lion’s ear or wild dagga (Leonotis), red-hot pokers (Kniphofia) and the dwarf coral tree (Erythrina zeyheri) provide touches of colour against a restful woodland backdrop. A series of vistas leads one naturally through the Garden, to the wooded koppies, up onto the rocky outcrops, which overlook the Garden, and back down to the dam, to the bird hide and the lawns.

From November to March, most of the plants in the Garden are in full leaf and from March to June, the colourful autumn shades of yellow and red dominate. The natural areas of the Garden are a haven for wildlife, including 144 bird species, 54 reptile species and about 32 mammal species.

Hulle noem nie die tuin in winter nie, en ja, baie goed is spierwit-morsdood, maar dis steeds beeldskoon.  Die wandelpaadjies op teen die koppie kan mens nie beskryf nie.  Ongelooflik mooi.

En ek’s bly om te sê dat die tuine die Nuwe Suid-Afrika oorleef het.  Alles lyk netjies en goedversorg, en plek-plek is hul besig met nuwe bouwerk en verandering.

Die dam is tydens die ABO deur die Britte gebou om water vir hul perde te voorsien.  Vandag kan mens in ‘n ‘bird watching hut’ sit en uittuur oor die dam.

Af en toe kry mens ‘n helder spatsel kleur teen die wintervaalheid…

Die verskillende skakerings maak my mal…al sal sommiges dink dis verskillende skakerings van vaal…   :lol:

Hierdie koppie gaan ons more verken met ‘n piekniekmandjie en water, wat ons vandag vergeet het.   :oops:

Small things amuse small minds, en hierdie blommetjie wat so blaarloos in die middel van die paadjie gegroei het, het my pienk getickle.    :lol:

Die klein denneboompie

Op ‘n berghang, nie te ver hiervandaan, was daar ‘n pragtige plantasie dennebome.  Hulle is geplant deur mense, en hulle het net een doel gehad:  eendag sou hulle almal papier word.

Oe, en die boompies was só opgewonde daaroor! Hulle kon nie wag om groot genoeg te word sodat hulle afgekap en na die papiermeule geneem kon word nie.  Party wou graag storieboeke word, ander wou eerder tydskrifte word.  Elke dag het hulle daaroor gepraat.  “Ek wonder hoe lank dit nog gaan neem”, het een gewonder.  ‘n Ander een het gehoop hý gaan die eerste een wees om afgekap te word.

Maar tussen al die pragtige dennebome, het ‘n klein denneboompie gestaan.  Niemand weet hoekom nie, maar hy het nie so groot en sterk geword soos sy maters rondom hom nie.  En soos die ander bome hoër en hoër geword het, hoe stiller het die arme klein denneboompie geword.  “Niemand sal my tog wil gebruik nie,” het hy hartseer gedink.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek.  Slim mense het na die bome kom kyk en besluit hulle is groot genoeg om afgekap te word.  En, net soos die klein denneboompie verwag het, het niemand eens na hom gekyk nie.  Teen laatmiddag was al sy maats  afgekap en netjies opmekaar gestapel, reg vir die vragmotors om hulle te kom haal.

Die klein denneboompie het alleen op die berghang agtergebly.  Hy was so hartseer.  Hy wou ook graag iets vir mense beteken het.

Die dae het weke geword en later maande, en die denneboompie het gedink almal het van hom vergeet….toe daar eendag ‘n kar stop en ‘n ma, ‘n pa en drie kindertjies daaruit klim.  Wat die denneboompie nie geweet het nie, is dat hierdie ‘n baie spesiale familie was.

Hulle was op soek na die perrrrfekte denneboom vir Kersfees.  Hulle het nie van plastiekbome gehou nie, nee.  Hulle het ook nie van perfekte bome gehou nie, nee.  Hulle het ‘n unieke boompie gesoek wat net reg vir hulle was.  En hulle dink hulle het hom gekry!

“Kyk, Pappa, hierdie boompie is nie te groot nie!”

“En hy lyk ook nie perfek soos ‘n winkelboom nie!”

Die pappa het hom die boom geloop en die hom op en af bekyk.

“Ek dink julle is reg.  Hierdie is die perfekte boom vir ons!”

En so het dit gebeur dat die klein denneboompie van die berghang na ‘n knus huisie verskuif het, en iets vir mense beteken het.  Vir hulle was hy die mooiste, perfekste boompie ooit!

En hopelik geval dit Tannie Tossel…my swak hart…wat ek ook nie alles vir ‘n tag sal doen nie.   :shock:

Die A-woord

My ma stuur nou die dag vir my ‘n boek.  Bless her soul, sy’t dit gehaat toe ek te ver na haar sin in Angola was, maar sy weet hoe die plek ‘n gat in my hart gebrand het.  Eendag sal ek probeer om iets daaroor te blog, maar dit sal moeilik wees.  Die boek is amper iets soos die Bybel.  Mens kan nie net in ‘n paragraaf of twee opsom wat daarin staan nie.  Afrikaners in Angola 1928 – 1975  deur Nicol Stassen.

Ek wys vir Bruce die boek en die foto’s daarin.  Hy blaai daardeur en betrag een van die min kleurfoto’s daarin vir ‘n rukkie.  “Ek mis Angola,” eggo hy die geween in my binneste.

Dis amper 19 maande later, en die hemel hoor my, ek is nog nie genees van my verlange  nie.  Nou die aand het ek ‘n droom gehad dat ek terug is.  Dit was ‘n boomryke dorpie by ‘n berg.   Ek onthou ek het nie veel aandag aan die huisies en selfs die kerk gegee nie, want in my droom was dit reeds bekend.  Ek wou by die berg op, en uiteindelik het ek heelbo gestaan en uittuur oor die vlaktes.  Ek het laas so bly gevoel toe ek gedroom het my oorlede broer lewe.  Toe word ek wakker in die Vrystaat en weet nie wáár die plek van my droom  is nie.  Nie ‘n plek waar ek vantevore was nie, in elk geval.

Ek spandeer ‘n goeie deel van elke dag aan schemes om eendag weer in Angola te kom.  Die een wat nou voorrang geniet, is dat my man weer vir sy Namibiese burgerskap aansoek doen.  Somehow moet ek dit ook kry.  Namibiërs het nie visums  nodig nie…

Hulle sê elke mens het ‘n talent.  Angola is myne.  Ek herken Angola dadelik, of dit nou in ‘n tydskrif of koerant is of op televisie.  Ek herken die grond en deurmekaar plantegroei en anderste blou lug voor ek nog ‘n byskrif van ‘n foto gelees het.  Of dalk is dit net omdat ek dan ‘n stukkie van myself raaksien.

Ek mis haar, en ek is seker sy mis my ook.

Stokstyf

Nurses are underpaid and overworked en oor die algemeen beskou die publiek ons as skivvies.  Maar so af en toe lag ons die laaste lag wanneer ons shop gesels oor goed wat ons teëgekom het.   :wink:

‘n Jong kollega is besig met haar Zuma-jaar in een van die staatshospitale.  Vertel sy van ‘n vrou wat verlede week na die Ongevalle gekom het.  ‘n Netjiese vrou, op die oog af glad nie kômmin nie, so in haar laat dertigs, vroeë veertigs.  Maar duidelik ongemaklik en op soek na ‘n spesifieke suster, wat toevallig nie daardie dag werk nie.  Jong Kollega, die ene professionele besorgdheid, vra of sý kan help.  Ok, seg die vrou, maar sy soek bietjie privaatheid.  En hulle verdwyn in ‘n ondersoekkamertjie.

Dáár, vertel Jong Kollega, trek die antie eers ‘n attitude op haar.  Jong Kollega moet net mooi verstaan, sy is ordentlik en selibaat, maar…sy het ook vleeslike behoeftes.  Jaaa…wonder Jong Kollega.  Nee…uhm…in horte en stote kom dit uit:  sy het per ongeluk ‘n kers afgebreek…dáár in die onnoembare region.   Maar! Sy moet asseblief da-de-lik gehelp word, want sy versorg ‘n 90-jarige omie en hy sit nou buite in die kar in die son.   Kers + ou omie = konneksie, wonder Jong Kollega terwyl sy die stuk kers uitvis…  “Lag jy vir die mense”, vra ‘n ander vriendin.  Nee, sy wou eintlik net vir haar ‘n padkaart teken Adult World toe, sê my kollega.

Later kom ‘n middeljarige man in met ‘n ewe netelige probleem.  Hy’t die vorige aand ‘n Viagra-pilletjie gedrink, en toe dit nie werk nie…drink hy sommer vier.  En nou sit hy met ‘n probleem van epidermiese proporsies…

Sedert ek begin verpleeg het, het ek geleer mens gebruik nie deodorant-spuitbottels vir jou plesier nie – die doppies het die manier om af te kom en vas te sit.

Aartappels in jou agterent…bad, bad idea.

Onder die beskawing-vernislagie, is die mens ‘n rou dier met groot lus.

 

Amper tyd om ‘n nuwe vriend te groet

Dis verseker nog koud, maar daar is ‘n definitiewe lente-gevoel in die lug.  Dis in die blou van die lug, die geel van die son…en ek dink ons gemoedere begin ook lig.

Hierdie winter was die keerpunt.  Ek het besef dit help nie om teen die koue te baklei nie…toe omhels ek dit.  Ek het vir my ‘n jas gaan koop, wolkouse, elektriese komberse, serpe…  Ek het begin kyk hóé ek die koue kan uitoorlê, en ek het die stryd gewen.  Al is die uiteinde dat ek ook ‘n outydse worshond-deurstopper het - hy  stop darem die koue wind wat onder die deur inkom.   :wink:

Maar die grootste ommeswaai was hoe ek die winterlandskap beleef.  Verlede jaar het alles net vaal gelyk.  Hierdie jaar het ek met ‘n nuwe oog gekyk.  En eendag, as ek groot is, wil ek ook ‘n fêncy kamera hê met ‘n lens wat kan in- en uitzoom en shutters wat soveel en soveel lig deurlaat.  Want mens het ‘n fêncy kamera nodig om die mooi van winter vas te vang.

Dis in die ivy wat om die kaal stamme van die akkerbome groei, en die fyn, wit ryp wat soos versiersuiker ál om die randte van die ivyblare sit.  Dis die rooi gloed van die son op veld vol ryp.  Dis bloedrooi bessies en roomkleur-gras en pikswart teerpad. Dis in die glinster van die vroeë oggendson op yskristalle.

Nooit gedink ek sal dit sê nie, maar ek gaan hierdie winter mis.

Hierdie foto het ek op die web gesteel, maar die ivyblare lyk net so by ons..

Bestuur-plesier

Dis heerlik vir ‘n nie-wetsgehoorsame burger soos ek om in Bloemies te ry.  Ek is mos ‘n girl wat sonder ‘n liksens rondry.  Wel, ek het een gehad, maar hy is saam met my handsak gesteel en ek het net nooit weer die moeite gedoen om vir ‘n nuwe een aansoek te doen nie.   :oops:

In KZN, waar mens met “zero tolerance” gedreig word, het ek my bes gedoen om soos ‘n verantwoordelike burger te lyk:  donkerbril op, safety belt aan, binne die spoedgrens, verkieslik met ‘n kind op die agtersitplek.  En dit het gewerk.  Hier kan ek maar soos ‘n tang in die kar klim, die safety belt los as ek wil (maar ek wil darem nie) en ry asof die duiwel my jaag.  Want spietkops het ek in  18 maande nog net 2 maal langs die pad gewaar.  Die res van die tyd sal mens hulle in Fruit & Veg kry, besig om roomkoek te vreet.  Maar dit pas my soos ‘n handskoen.

Bloemfonteiners bestuur oor die algemeen soos varke.  Verkeersligte, stoptekens, sperlyne is alles relatiewe begrippe.  Hoekom stop by ‘n rooi lig as daar nie verkeer is nie?  Hmmmm?  Dis mos sommer tritte en ou tannies wat stop as regtig nie nodig is nie.  En almal weet tog die traffic cops is in Fruit & Veg…

Iets wat ek nie so baie in ander provinsies teëgekom het nie, is die ding om oor die geelstreep te gaan sodat ‘n vinniger kar jou kan verbygaan.  (Jaaa…onwettig, ek weet.)  Eers het ek ook vasgeskop daarteen, maar laat iemand nou lank genoeg op jou gat sit en wag dat jy padmaak vir hom, dan gee selfs my nerwe in.  Gewoonlik is die mense baie ordentlik en flash hul noodligte om dankie te sê.  Nie die BMW’s nie…hulle vlieg ergerlik verby sonder ‘n dankie asof jy al ‘n kilometer gelede moes geweet het hulle is oppad.  Nou laat ek BMW’s maar op die ou manier verbygaan.   :wink:

Kostelik is die lorries wat altyd “plesier” flash as jy hulle ‘n dankie-flash gegee het.  Lorriedrywers is seker die ordentlikste, gemanierdste padgebruikers in die Vrystaat.  Laat dit nie gesê word dat ‘n lorrie jou opgehou het nie – hulle maak omtrent altyd plek vir jou om verby te gaan.

As ons laat is vir skool, is dit werklik ‘n plesier om die pad te vat.  Mens kan maar 120 km/h ry – of vinniger, afhangende van hoe laat jy is, op die 100 km/h pad.    Stadiger karre maak vir jou plek, en as daar wraggies iemand is wat vinniger as jy is, maak jy weer vir hom oop.  (Behalwe as dit ‘n BMW is, nê.)

Maar ek het geleer om vyf minute vroeër in die pad te val.  Daardie vyf minute maak ‘n wesenlike verskil of ek 7h40 terug is by die huis, of 8h00.  Want die vet weet, êrens duskant die skool bly ‘n ou oom met ‘n nog ouer wit kar, en hy’t nog nie uitgevind hoe ons in hierdie provinsie ry nie.  Beland jy agter hom op die pad terug, is dit nag.  Teen 20 km/h (regtig!) sal ons aankruie tot die pad weer twee bane maak.  Ek het hom al mooi bekyk eenkeer toe ek hom gelukkig kon verbygaan: sy neus was omtrent vas teen die voorruit.  Ek dink die oom is stokblind, en seker doof ook, dus gaan vingertekens en ‘n getoet verlore op hom wees.

Maar wat.  Oor die algemeen is dit ‘n plesier om in ons ou plekkie rond te ry.  Its a jungle out there, maar dis ‘n fees as jy eers die reëls onder die knie het.   Viva! vir ons Vrystaatse spietkops, Viva!