My ma stuur nou die dag vir my ‘n boek. Bless her soul, sy’t dit gehaat toe ek te ver na haar sin in Angola was, maar sy weet hoe die plek ‘n gat in my hart gebrand het. Eendag sal ek probeer om iets daaroor te blog, maar dit sal moeilik wees. Die boek is amper iets soos die Bybel. Mens kan nie net in ‘n paragraaf of twee opsom wat daarin staan nie. Afrikaners in Angola 1928 – 1975 deur Nicol Stassen.
Ek wys vir Bruce die boek en die foto’s daarin. Hy blaai daardeur en betrag een van die min kleurfoto’s daarin vir ‘n rukkie. “Ek mis Angola,” eggo hy die geween in my binneste.
Dis amper 19 maande later, en die hemel hoor my, ek is nog nie genees van my verlange nie. Nou die aand het ek ‘n droom gehad dat ek terug is. Dit was ‘n boomryke dorpie by ‘n berg. Ek onthou ek het nie veel aandag aan die huisies en selfs die kerk gegee nie, want in my droom was dit reeds bekend. Ek wou by die berg op, en uiteindelik het ek heelbo gestaan en uittuur oor die vlaktes. Ek het laas so bly gevoel toe ek gedroom het my oorlede broer lewe. Toe word ek wakker in die Vrystaat en weet nie wáár die plek van my droom is nie. Nie ‘n plek waar ek vantevore was nie, in elk geval.
Ek spandeer ‘n goeie deel van elke dag aan schemes om eendag weer in Angola te kom. Die een wat nou voorrang geniet, is dat my man weer vir sy Namibiese burgerskap aansoek doen. Somehow moet ek dit ook kry. Namibiërs het nie visums nodig nie…
Hulle sê elke mens het ‘n talent. Angola is myne. Ek herken Angola dadelik, of dit nou in ‘n tydskrif of koerant is of op televisie. Ek herken die grond en deurmekaar plantegroei en anderste blou lug voor ek nog ‘n byskrif van ‘n foto gelees het. Of dalk is dit net omdat ek dan ‘n stukkie van myself raaksien.
Ek mis haar, en ek is seker sy mis my ook.

Mens mag maar aanhou droom, en hoop dat daai drome eendag gaan werklikheid word.
Soek vir my vrugte as jy daar is. Ons is klaar in Mosambiek, werk aan die DRC en sal baie graag in Angola ook wil wees. Ek soek enigeiets waar die mense sonder gif of kunsmis kos verbou. Spesifiek grane (koring sal briljant wees), mangoes, neute, pynappel, sitrus, enige speserye of suikerriet.
Ek voel so oor waar ek nou bly. Ek is 150km van hier gebore, het regoor die land getrek maar ek voel tuis hier. Dis waar ek hoort.
Ek wou nog SO graag vir jou in Angola kom kuier het, so jy sal MOET eendag teruggaan. Ek verstaan hierdie verlang in jou hart na ‘n stuk grond, al dink julle mos ek is simpel oor my Berg
Pingback: Tannie Tossel se blokstorie « Toortsie se Blog
‘If you can dream it, you can achieve it’ – daar het jy dit! Moed hou suster! En soos jy oor Angola voel, voel ek oor die Berg, die Drakensberge – wat ons nog altyd sommer net ‘Die Berg’ noem. Ek sien Angola het ‘blyplek’ vir Gaddafi ‘voorsien’ – indien hy dit ‘nodig’ sou kry.