Dam van Trane II

Af en toe kyk ek na die soekterme wat mense hierheen gebring het, en ek is baie verbaas.  Loshande voor is…Monument vir Vroue.  Kort op sy hakke is Dam van Trane.  Daar gaan amper nie ‘n dag verby dat iemand nie Monument vir Vroue lees nie.  Terwyl dit my hart verbly dat daar skynbaar nog ‘n lewendige belangstelling in ons geskiedenis is, wonder ek darem of ek nie bietjie die spinnerakke hier moet uitvee nie…dalk raak ek nou regtig oud en verstok.   :wink:

In elk geval, dis wat my laat besluit het om tóg maar te vertel van ons besoek aan die Dam van Trane.  (Vir die wat wonder, die Bloemfonteinse konsentrasiekamp was hier geleë.  Omdat water skaars was, het die vrouens en kinders die dam met blikkies en wat hul ookal kon gebruik, uitgegrawe.  Die wal het hulle met hul voete vasgestamp.  Die dam is blykbaar op ‘n fontein gebou, maar was nog nooit, in meer as 100 jaar, sonder water nie.)

Kom ek begin by die begin.

Die grond waarop die Dam geleë is, behoort aan die NG Kerk.  Enigeen kan die Dam van Trane besoek tydens kantoorure.  Die sleutels vir die hek is by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (Bybelhuis) en hulle kantore is op dieselfde terrein.   Niemand hou jou dop nie, en dit maak sin.  Daar is niks om weg te dra nie.

Mens word verduidelik hoe en waar om te ry, maar ek en my ma het besluit om te loop.  Dit voel nie reg om die kilometer of so te ry en alles so in die verbygaan te besigtig, terwyl ons voorsate bitter tye daar gehad het nie.  Die minste wat mens kan doen, dink ek, is om jou agterent te lig en ‘n effense sweet op te werk.

Hoe dit daardie tyd gelyk het, kan ek my net voorstel.  Vandag loop mens langs ‘n onnet laning bloekombome na Die Dam.   Die water is modderig, met baie riete en goeters wat daarin groei.  Hoe desperaat moet mens wees vir water, om sulke water te gebruik vir “huishoudelike” gebruik.

Vandaar loop ons op ‘n tweespoor-paadjie na die Bron van Herinnering, ‘n monument om die vroue en kinders van die kamp te gedenk.  Links en regs en voor ons is geel wintersgras, so ver as die oog kan sien.  Die kamp het gestrek van waar die Brandwag Sentrum vandag is, oor die snelweg tot teen Spitskop.  ‘n Groot stuk grond.

Links...

...regs...

Weggesteek in die lang gras sien ons ‘n hoop klippe, ru vasgemessel, ‘n plaat – nog ‘n groep wat die verlede onthou.  As ons gery het, sou ons dit nooit opgemerk het nie.

Die Bron van Herinnering is…orraait.  Die gedagte is daar, maar verwaarlosing het al bietjie begin inkruip.  Dis stil en rustig as mens onder die kareeboom-laning daarheen loop.

Daar is ‘n mooi beeld, een wat (vir my) lewe.  Die ma en haar kinders beur vorentoe, mens kan dit voel.  Die woorde kan net sowel vir ons vandag wees.

'n Boodskap vir ons vandag? (Kliek om te lees)

Op die ou einde het ek daar weggeloop en gedink dat daar iets beters met daardie stuk grond gedoen moet word as om dit net daar te laat lê.  Ek dink dit het vir die volk geword soos die kerk vir my geword het:  ek het respek daarvoor en eerbiedig dit, maar sit my voete nie daar nie.

En ai, ek het nie regtig ‘n hoendervleis-oomblik gehad nie.  Die wind deur die geel gras het nie kinderstemme van lank gelede na my gedra nie.  Ek het nie die leed daar gevoel soos ek dit by die Vrouemonument ervaar het nie.

Eendag gaan iemand begin grom oor ‘n lap grond wat nie benut word nie, en as ons weer ons oë uitvee, staan daar ‘n nuwe mall en die Dam is ‘n parkeerarea.  Dan kan niemand daaroor huil soos ‘n kind wat kerm oor ‘n speelding waarmee hy nooit gespeel het nie en toe weggegee is.

Wat van ‘n Vrystaat Mall? (Of so iets!) Die winkels kan op die patroon van hartbeeshuisies en Basotho-hutte gebou word.  Net Suid-Afrikaners (Vrystaters?) mag winkels daar hê.  Geen produkte van Sjina, Taiwan of Hong Kong mag verkoop word nie, alles moet raseg Suid-Afrikaans wees.  Nie jou gewone vlooimark-tuisgemaak-tuisgebak soort van mall nie.  Kwaliteitgoeters.

Daar moet kronkelpaadjies wees met ysterklip en aalwyne tussen die winkels deur.  ‘n Baan vir jong skateboarders.  Iets moet met die Dam gebeur.  Dalk ‘n mooi grasperk rondom hom met ‘n eetplek en stoele en bankies.

En in die middel van alles moet daar ‘n proper monument wees.  Nie ‘n somber, droefgeestige ene nie.  Nee, hy moet jonk en modern en blymoedig wees.  Sedert die ABO het ons as land ’n ver pad gekom.  Al neig ons tans weer die afgrond in, kan ons maar 100+ jaar se voorspoed en opbou vier.  Swart kon dit nie sonder wit gedoen het nie, wit kon dit nie sonder swart gedoen het nie.  Hier moet ons kan bemekaar kom en vorentoe kyk.

Mens mag maar droom, nê?

 

11 Responses »

  1. Jip, dis hoe al ons Afrikaner geskiedenis verlore gaan / sal gaan.
    Bou ‘n Mall en vergeet van al die smart. Wat van ‘n Mandela monument ? Almal juig en buig mos voor hom. Kom ons lag en hou partytjie oor al die vroue en kinders wat dood is in die konsentrasie kampe. ‘n Baan vir jong skateboarders …. lekker man. En ‘n stalletjie wat gratis spuitverf uitdeel om te kan graffiti oralste. Suid afrikaners van daai era het mos in Basotho hutte gebly terwyl hulle oorlog voer teen die Britse magte.
    Nee magtag man. Mens moet darm so tikkie trots hê oor jou geskiedenis. As dit nie vir die boeremagte was nie het ons nogsteeds onder ‘n Britse juk gelewe.

  2. Jy speel seker oor die mandela monument, of jys besig om gat te krap – big time, jagter!

    Ek dink ons moet meer hierdie plekke besoek – dan bly die herinnering lewendig. En om ‘n jolly monument te wil oprig en ‘n mall – ek hoop seriously jy was net in ‘n goeie bui!

    Dit het my so afgepis toe ons in 2005 die Vrouemonument besoek het, en ‘E’s’ is in beheer van ons erfenis, en kan jou sweetblouboggerol vertel wat jy wil weet. Hulle kan wel hulle vet gatte lig van waat hulle sit-le in die stoele, en ‘n pamflet in jou hand druk. Niemand om meer te vertel nie!

    Wat meer as ‘n 100 jaar gelede gebeur het, was nie net gruwelike menseregteskending en skande nie, maar het my Volk verdun tot wat ons vandag probeer wees.

    Jagter, die Boeremagte het ons nie regtig onder die Britse jeuk bevry nie. Maar die duurste oorlog in rooinek geskiedenis het hulle laat besluit om ons op ‘n ander angle aan te vat en te beheer. Ons is steeds onder britse jeuk. Net via ander kanale.

  3. Wel, ‘n mall was net ‘n idee….ons mense hou mos daarvan om te shop. :wink:

    Enigiets kan daarmee gebeur, solank dit nie

    a) net nog ‘n monument is wat eenkeer ‘n jaar met Geloftedag besoek word nie.
    b) omdat dit net eenkeer ‘n jaar besoek word, staan dit en verwaarloos. Ek is siek en sat vir goed wat kamma soveel vir ons beteken, maar niemand doen die moeite om dit in stand te hou nie.
    c) dit so droef en stroef en somber is, dat dit die jeug afskrik nie.

    Jagter, dis nou ‘n bekende feit dat swartmense ook in haglike omstandighede in kampe aangehou is. Dis vir hul ‘n bitter pil dat hul ontberings daar nie eintlik erken word nie. ‘n Klein kamertjie in die Oorlogsmuseum is basies al wat hulle gekry het. Verder was daar ook baie swartes wat as agterryers, ens baie getrou aan hul ‘base’ was. Dis hoekom ek die Basotho en hartbeeshuisies genoem het. Werk aan bietjie eenheid onder ons mense. (Alhoewel ek weet ‘ons mense’ seker nie vir jou dieselfde beteken as vir my nie.)

    Skoor, die Oorlogsmuseum en Vrouemonument is ‘n semi-staatsinstelling. Nie soos die Voortrekkermuseum op Winburg wat heeltemal onder die provinsie val nie – en eintlik net in naam nog bestaan. Alles word nog goed in stand gehou, en dis eintlik ‘n puik museum. (Die oorlogsmuseum, nou.)

    Jagter, insinueer jy dalk dat ek nie trots is op my geskiedenis nie? Indien wel, sit jy die pot big time mis.

  4. Ek dink jy het baie goeie dinkwerk begin hierso – die regte soort ontwikkeling kan die terrein red van verval, en terselfdertyd maak dat wat by hierdie plek gebeur het, nie vergeet word nie.

    Ek dink egter daar is reed te veel Mall’s en winkels in Bloemfontein in vergelyking met die beskikbare koopkrag, en boonop is ‘n Mall nie die regte soort ding vir die terrein nie want dit betoon nie respek nie. Maar nogtans is jy reg dat ontwikkeling ‘n volhoubare oplossing kan bied.

    Dis ‘n groot stuk grond daardie, en ek sou reken dat die kern van die Bron van Herinnering, die beeld en die kareeboom-laning moet net so behoue bly (met miskien net die grasperk en bankies wat jy noem). As die bestuur van die terrein na ‘n meer dinamiese organisasie (dalk Afriforum) oorgedra word, kan hulle die res van die wyer terrein ontwikkel vir huise. Die geld wat daaruit gemaak word, moet die plek in stand hou vir die lang termyn.

    Daar kan verder ‘n museum van anti-imperialisme gebou word, en mense kan van oor die wereld daarheen kom om te kom kyk wat doen imperialisme.

    Verder kan ‘n Basotho monument soortgelyk aan die ma en haar kinders gebou word, om erkenning te gee aan die swart slagoffers van die konsentrasiekampe.

    • Wel, mall was seker nie die regte term nie. Ek het meer gedink aan ‘n park met wandelpaadjies, maar ja, met winkel(tjies) en eetplekke tussenin. Anyway, dit was net iets waaraan ek gedink het toe ons daar geloop het. Enigiets sal seker doen. Maar net nie huise nie. Dit sal net so min respek toon as ‘n mall, in my opinie.
      Maar ek verstaan hoekom die grond net daar le. Mens sal nie 2 Afrikaners kan laat saamstem oor ‘n ding nie.

  5. Nou ja toe, skryf vir die parlement dat hulle vir hul mense ‘n monument kan aanbring. Ek is gatvol betaal aan ‘skuldbelasting’ – ja wat. Ek gaan sommer nie vandag mall toe nie :lol:

  6. Soos in skool geleer het die dam was gebou deur die vroue. Elke grein sand was aangedra met hul voorskote. Ek het as jong man elke dag langs die dam verby gehardloop, toe in army was, geen heining was om hom, en min manne het geweet wat waar en hou die dam gebou was, oo het hom al droog gesien.
    Johan. Ps weet jy van hangmans kloof ek het daar as kind gespeel, waar hulle die boere opgehang het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s